
2007 Week 52
Net voor die jaar eindig dag ek dat dit nodig was om net gou terug te
loer na wat die jaar gebeur het. Wat 'n aangename gevoel om weer terug
te kan gaan en alles wat die afgelope jaar gebeur het, plekke wat ons
besoek het, hoogtepunte en mylpale wat ons bereik het, te kan besoek en
herleef.
Was nie altyd lekker nie, heelwat hartseer het ook ons pad gekruis en
so tussen die stampe en stote deur wil ek onwillekeurig gou 'n paar
voorwentsels vir 2008 maak. Maar hou vir eers bietjie terug - want ek
hou in elk geval nooit aan die voorwensels nie.
Besluit toe maar om deur die dorp te stap en 'n paar laaste oomblikke
op kamera vas te vang en so die laaste van 2007 te groet!
Laaste Oomblikke van 2007!!
Dit was seker so 40 minute se stap deur die strate van Witrivier en was
my kuite opgepomp na so 'n stukkie stap!!! Het ten minste drie biere
geneem om weer te herstel. Nou ja vanaand gaan ons hopenlik wakker bly
'n vuurtjie begin en saam met die wereld nuwejaar vier - hier waar ek
nou sit is daar nog 'n halfuur of so oor in New Zeeland voor hulle nuwe
jaar begin terwyl ons nog spartel om gereed te maak vir die kuier op die
stoep vanaand.
Was lekker in 2007 maar 2008 gaan nog beter wees!
08HRJ

2007 Week 45
Die inspirasie het die week weer begin opvlam en het ek 'n paar nagte
nie geslaap nie (en nee mamma het niks daarmee te doen nie - sy het
lekker gelê en snork terwyl my brein my aan
die gang hou). My oë val soos
leep-ogies toe, my arms is moeg (my gat deur gesit op die stoel)
en my rug kraak soos 'n ou ford wat lanklaas 'n steil opdraende gesien
het, maar werk sal ons werk.
(Terloops, jammer as jy Ford ry -
ek is nie 'n groot aanhanger nie!).
Die afgelope tyd was ek maar negatief oor aanbly hier in Suid Afrika,
en met die arbeid wat ook maar skommelinge het, gaan die "vat jou goed
en trek Ferreira" gedagtes meer gereeld as nie, deur my kop.
Tree in die internet!!
Ons beplan nog groter dinge vir volgende jaar en sonder om te veel
nou al kwyt te raak (aasvoëls het nie
genade nie en steel maklik jou idees voor jou neus weg) is ek woes
opgewonde oor die rigting waarin internet uitsaai gaan.
Ek het lus vir 'n laaaaaaang "eish koue"
kuier op die stoep met 'n braai en lugkastele bou oor al dié
moontlikhede.
Gaan vanaand die vuur weer
aansteek....ummf ...wanneer laas het ons met kole vuur gemaak ??(Laas
toe ons nog in Pretoria gewoon het), dis net 'n ander atmosfeer wanneer
jy die hardehout aansteek en die vlammetjie lek weg aan die stukke
gekapte boom wat 'n plesier verskaf soos min buitelanders sal ken!!
Maak toe uiteindelik 'n draai by die
Spur en lê weg aan die "special" (stuk wors, tjop en rib met "chips")vir
net R50.00: was gelukkig vroeg daar want later was daar min plek om te
sit en die K³'s het hulle self poot-uit gespeel.
Het lekker gesit en kyk hoe die mense
hulle gedra in die Spur - soos die een pa wat heeltyd agter sy
dogtertjie (seker nie 'n dag ouer as drie jaar nie) aanloop met haar
bordjie (groente nogal) in sy hande en elke nou en dan moet sy sluk!!!
Wat het geword van kinders wat by die
tafel sit en eet??
Sy spring op die trampolien (met kos in
haar mond) en daar staan pappa tussen die ander kinders wat wag om te
spring met nog 'n lepel opgehoopte "broccoli".
Langs ons it 'n paartjie wat heel "hooi
polooi" probeer wees.....MOENIE IN DIE SPUR SIT EN JOU WYN SIP SOOS 'N
"PRO" NIE!! - wie probeer jy bluf???
As jou neus te vér in die lug is gaan
eerder na jou gereelde uithang plekkie (as jy dit kan bekostig) - vir my
lyk jy soos 'n "cheap skate" wat piekante maniere probeer hê?
Moet sê, ons Witrivier Spur is die
enigste Spur in die land waar die kelners die kinders op die naam
ken, elke bestuurder het sy eie familie (klieënte) waarna hy kyk en as
die kos kom gaan roep hulle die kinders tussen die ander maatjies by die
klimraam een vir een om te kom aansit. Mamma & pappa kan rustig sit en
teug aan die sjerrie - die kinders is uitgesorteer!
Hier raas een pappa sommer gelyktydig
met al die stoutgat seuntjies bo op (in plaas van binne in) die klimraam
waar hulle die dogtertjies irreteer, sonder dat die ondeunde snotneuse
se pa die moer in raak en hom (pa no.1) parkeerarea toe wil sleep vir 'n
opstopper, nog voor sy vleis koud is!!
Dankie tog my naam is nie Theuns of
Steve nie, want die ouens sal nooit weer dié plesiertjies wat ons by ons
plaaslike Spur het, geniet nie (as ek instap staan my gunsteling bier al
gereed - in elk geval is daar net twee van ons wat hier Bavaria drink).
Wanneer ek hap van my "Choc Chip Sunday" wil neem is daar nie drie
mammas wat net gou 'n hantekening (vir hulle kinders nogal!!) voor hulle
huistoe gaan, sommer op 'n vuil vetterige servet, wil hê, nie (en
terloops, wie bring in elk geval 'n dik swart pen na die Spur saam?).
Maak weer so, later!
08HRJ!
