Van 1 September 2011 is hy deel van die Mpowerfm span as “Sales Manager” en spandeer sy uitsaai ure aan internetradio op Afrikaans.fm en die 08hirobinjshow.
Voorheen by Radio Laeveld 100.5fm as Programbestuurder en met meer as twintig jaar uitsaai ondervinding in gemeenskapradio en bemarking in Suid Afrika, het die uitsaai gogga al in die laat 1980’s gebyt. Met verskeie "fishbowl" radio werk in Pretoria agter die rug kon hy al voltyds agter die mikrofoon in skuif by winkelsentrumradio, supermarkradio, seremonie meester en snags as nagklub DJ.
Met die uitreiking van die eerste gemeenskapradio uitsaai-lisensies in Suid Afrika sluit hy by Radio Rippel 90.5fm op 1 Aug 1995 as mede-aanbieder van die middagspitsprogram, aan. Later doen hy ook die Top 20 treffersparade en saans die jeug-programme, waar hy ook by opleiding van jonger aanbieders betrokke was. In hierdie tyd het hy ook ander geleenthede geniet om oudisies vir televisie programme by te woon asook by Loftus Versveld (later ook by die Mbombela Stadion in Nelspruit) tydens rugby wedstryde aanbiedings te doen.
In 2002-2003 word hy as een van die aanbieders van die KykNET Afrikaanse musiekprogram DKNT aangestel. Hierna verhuis hy na die Laeveld van Mpumalanga (Nelspruit) en sluit by Radio Laeveld 100.5fm (op 1 Augustus 2003) aan. Hy bied onder andere die ontbydprogram, middagspitsprogram, die Top 20 treffersparade en die tuinprogram “Die Hande In Die Tuin" (vir 8 jaar) op Saterdagoggende aan.
Hy word op 1 Februarie 2007 as Programbestuurder by Radio Laeveld aangestel, waarna hy ook begin werk aan internetradio. Die gedagte van ‘n unieke Innibos Fees radiostasie is al met afloop van die eerste Innibos fees in 2004 geplant en die navorsing en ontwikkeling wat daarna gevolg het, het gelei tot die uiteindelike geboorte van Innibos.fm (2007). Jaarliks word die hoofverhoog uitsendings regstreeks vanaf die Innibosfees in Nelspruit op die internet uitgesaai (tot 2010).
Afrikaans.fm is die volgende projek wat ook voltyds alles Afrikaans insluit en op die internet uitsaai. In 2011 sluit hy by My-News.tv aan en bied ‘n ontbytprogram op die gemeenskaptelevisie in Nelspruit aan.
Ander belangstellings sluit webwerf ontwerp en onderhoud in (1 Jan 2007).